Die plaaslike musikant Francois van Coke maak sy hart vanjaar oop deur ’n paar goeie sake te ondersteun.

Hy’t verlede week aangekondig dat hy by kunstenaars van oor die wêreld aangesluit het om sy eie bydrae tot die Play it Forward-veldtog te maak.

Ná die afgryslike aanvalle wat in Parys plaasgevind het in November 2015, het The Eagles of Death Metal ’n pleidooi gelewer aan ander musikante om hul liedjie, “I Love You All The Time”, te sing.

Een van die aanvalle op daardie aand was ’n massaskietery in die Bataclan-teater tydens ’n The Eagles of Death Metal-konsert.

Die Amerikaanse groep het beloof om 100% van die inkomste vir elke cover vir The Sweet Stuff Foundation te skenk. Hulle het ook gevra dat kunstenaars wat die liedjie opneem, die geld wat hulle daaruit verdien ook aan die liefdadigheidsorganisasie sal skenk.

Francois glo aan die verenigende en genesende krag van musiek. Hy het dus geraak gevoel deur hierdie pleidooi om ook geld te help insamel vir die slagoffers van die Parys-aanvalle en het “I Love You All the Time” opgeneem.

“Ek het gevoel ek wou deel raak van die Play It Forward-veldtog, omdat ek geraak was deur die aanvalle by die Eagles Of Death Metal-vertoning en ek het ook gevoel ons het ietwat van ’n konneksie omdat ons saam met hulle op hul Suid-Afrikaanse besoek gespeel het.”

Francois is self ’n aanhanger van die groep en sê “I Love You All the Time” is sy gunstelinglied op hul nuwe album.

“Dit was ’n voorreg om dit op te neem.”

Francois se weergawe van “I Love You All the Time” is opgeneem deur Theo Crous van Bellville Studios met Jedd Kossew op kitaar.

Hy het die Franse deel van die oorspronklike weergawe in Afrikaans vertaal: “Ek het gedink ek maak dit so bietjie meer my eie. My Franse uitspraak sou baie sleg gewees het.”

Die liedjie is op iTunes beskikbaar.

Intussen ondersteun Francois ook die Vrede Foundation wat Herman Pretorius, wat agt dae voor sy dertigste verjaarsdag in 2009 weens kanker gesterf het, gestig het.

Die organisasie beywer hom vir kankerbewusmaking en die vroeë opsporing daarvan, asook fondinsameling vir jong Suid-Afrikaanse kankerlyers.

Francois en Herman was “bloedbroers” wat ’n lang pad saam gestap het toe hulle al in die 90’s saam in orkeste gespeel het en saam deel was van die “Bellville Rock”-opkoms.

Saam met Relate Bracelets samel hy geld in vir die Vrede Foundation met die verkoop van spesiale Francois van Coke-armbande.

Die Francois Van Coke-Relate-armbande word teen R50 verkoop en sal op 18 Februarie in Kaapstad by Fire & Ice tydens ’n gratis akoestiese vertoning bekend gestel word. Die armbande sal ook te koop wees by al Francois se vertonings.V Vir meer inligting oor Francois en hierdie projekte, besoek sy webwerf by francoisvancoke.co.za of sy Facebook-blad.